KINDERS KRY ONDERSTEUNING OM SELFVERTROUE TE BOU

August 2026

Vyf-en-dertig kwesbare kinders en hul versorgers in Loeriesfontein het onlangs ’n pakket van noodsaaklike ondersteuning ontvang om die druk van die nuwe skoolkwartaal te verlig.

Die kinders en hul versorgers het elk skoolklere, voedselpakkette en noodsaaklike skoolbenodigdhede ontvang tydens ’n onlangse geleentheid by die Thusong-sentrum in Loeriesfontein. Die doel daarvan is om kinders selfversekerd en voorbereid te laat voel en om hulle in hul skoolwerk te help.

“Ek is opreg dankbaar vir hierdie hulp. ’n Staatstoelaag rek net so ver, en hierdie bystand het my in staat gestel om ook na die kinders se ander behoeftes om te sien. Dit het ’n wesenlike verskil gemaak – nie net om hulle by die skool te kry nie, maar ook in hoe dit met hulle gaan as hulle eers daar is,” het Sheila Steenkamp, ’n versorger wat die ondersteuning ontvang het, gesê.

Die inisiatief word deur die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte befonds en is in vennootskap met die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling op die been gebring. Die departement se bestaande bande met kwesbare gesinne het help verseker dat die ondersteuning diegene bereik het wat dit die meeste nodig het. Versorgers, van wie baie werkloos is of onbestendige werk het, is voor die oorhandiging as ’n groep geraadpleeg sodat die pakkette by elke gesin se spesifieke omstandighede kon pas.

“Ons wil hê hierdie kinders moet gereed en selfversekerd by die skool aankom. Iets so eenvoudig soos die regte klere en kos in die huis kan die deurslag gee of ’n kind bly skool toe gaan, en ons hoop hierdie ondersteuning speel ’n klein rol daarin,” het Gwynne-Lee Borcherds, Bestuurder van Ekonomiese Ontwikkeling vir die Loeriesfontein- en Khobab-windkragaanlegte, gesê.