VOORKOMING VAN DWELMMISBRUIK VIR OUER- EN KINDONTWIKKELING

’n Gemeenskapsgefokusde maatskaplike-ondersteuningsprogram help om as deel van ’n langtermynbenadering tot die voorkoming van middelmisbruik sterker gesinsverhoudings te bou.

Hierdie program teen middelmisbruik, wat in vennootskap met FAMSA aangebied en deur die SANCA-kantoor in Loeriesfontein gefasiliteer word, het die afgelope drie jaar ontwikkel in ’n geïntegreerde model wat met ouers sowel as kinders werk om gedrag in die huisomgewing te beïnvloed.

In die jongste fase het nege vroue uit die gemeenskap die program oor positiewe ouerskap voltooi, waartydens hulle toegerus is met praktiese middels om kommunikasie te verbeter, konstruktiewe dissipline toe te pas en konflik doeltreffender te hanteer. Die sessies het ook ’n gestruktureerde ruimte vir portuurleer geskep en deelnemers toegelaat om ervarings te deel en vertroue met die toepassing van hierdie benaderings by die huis te bou.

“Die program het my ’n beter perspektief op die lewe gegee en het ’n positiewe impak op my en my vriende gehad. Dit het my inspireer om my beste self te wees en het my gehelp om selfvertroue te ontwikkel en my kommunikasievaardighede te verbeter. Die program was pret, boeiend en leersaam,” sê Danika Matthys, ’n deelnemer aan die program.

Aanvullend hiertoe was die I CAN-program, wat afgesluit het met ’n gradeplegtigheid wat deur 24 deelnemers, insluitend kinders en hulle ouers, bygewoon is. Hierdie komponent het daarop gefokus om kinders se eiewaarde, emosionele bewustheid en besluitneming te versterk, terwyl dit verseker het dat ouers ná die sessies aktief by die versterking van hierdie vaardighede betrokke is.

Sedert die bekendstelling daarvan het die program ’n meer deelnemende en gesinsgesentreerde benadering ontwikkel. Deur terselfdertyd met versorgers en kinders te werk, versterk die tussenkoms die steunstelsel rondom die kind, waarin gedragspatrone vorm gegee en in stand gehou word.

Die inisiatief, wat deur Loeriesfontein en Khobab Windplase befonds word, fokus op die toestande wat tot middelmisbruik bydra, insluitend kommunikasie-uitdagings, beperking van hanteringsvaardighede, en gapings in ouers se ondersteuning.